Welkom by ons webtuiste
Visie van die VGK Kraaifontein
Die visie van ons gemeente is om vredemakers te wees.
Vredemakers in die Gemeente
Ons gemeente bestaan reeds 79 jaar. Van die begin af het die kultuur van konflik sy stempel op die identiteit van die gemeente afgedruk.
Die eerste roeping wat ons as vredemakers aanvaar het, was om die kultuur van konflik in die gemeente te verander in ‘n kultuur van vrede. Die predikante het die roeping in die prediking beklemtoon.
Toe ons na ‘n proses van geloofsonderskeiding ons visie geformuleer het, was daar juis reeds vir ‘n paar jaar ‘n onverkwiklike stryd tussen die kerkraad en ‘n groepie beswaarde lidmate aan die gang. Dit was vir ons ‘n bevestiging dat die Here die visie vir ons gegee het toe die beswaarde lidmate kort na die bekendmaking van die gemeentevisie self aangekondig het dat hulle besluit het om die strydbyle te begrawe. Hulle het hierdie vrede wat die Here vir ons gegee het by ‘n nagmaaldiens saam met die gemeente gevier.
In die verlede was die konflikkultuur oppermagtig, nou kom al hoe meer lidmate op en uit vir vrede.
Vredemakers oorkant die straat:Herstel die verhouding met die NG Kerk
In die apartheidsjare het ons verhouding met die NG Kerk gestremd en vervreemd geraak. As vredemakers het die Here ons oortuig om weer die bande met die plaaslike NG Kerk te probeer herstel.
Ons hou nou reeds drie jaar lank gesamentlike aanddienste en Pinksterbidure. Die kinders van ons gemeentes het vir ‘n naweek saam gekamp. Ons kerkrade het ook al saam gekamp. Daar is ‘n verbintenis by albei kerkrade om op al hoe meer terreine met mekaar saam te werk. Die blootstelling aan mekaar het die ruimte geskep waarin besondere verhoudinge oor grense heen ontwikkel het. Ons sien hierin die Here aan die werk.
Vredemakers oor ons landgrense: Bou verhoudings met susterkerke in Suidelike Afrika
Ons glo die Here het ons ook gestuur om oor ons landsgrense vredemakers te wees. In Augustus 2006 het ‘n groepie van ons lidmate as deel van ons gemeente se 75-jarige feesvieringe ‘n toer na Zimbabwe, Mosambiek en Malawi onderneem om te begin om verhoudinge te bou met ons susterkerke in Suidelike Afrika. Die verhoudinge word verder ontwikkel deur predikante van dié lande wat van tyd tot tyd by die Universiteit van Stellenbosch kom studeer. Hulle kom kuier naweke by ons lidmate, neem preekbeurte in ons gemeente waar of dra groete van hul gemeentes aan ons oor. Hierdie blootstelling help ons hele gemeente om betrokke te voel en te raak by ons susterkerke en die grense na die mense van Suidelike Afrika oor te steek.
Ons is dankbaar dat die Here ons op hierdie reis stuur en ons oral Sy spore ontdek…
Welkom by ons webtuiste


Comments
RSS feed for comments to this post